Agtergrond

In hierdie hoofstuk haal ek van die agtergrond aan wat van toepassing kan wees op die stamvader, hoofsaaklik uit die volgende insiggewende bron: “Het Oost-Indisch avontuur.  Duitsers in dienst van de VOC (1600-1800)”  deur Roelof Van Gelder,  Hy het die reisverslaë en/of autobiografië van 47 Duitsers wat in VOC diens ontleed vir insigte.

Die fisiese profiel van ‘n VOC soldaat kan ons aflei van VOC beleid en praktyke.  Slegs mans tussen die ouderdom van 18 en 40 jaar is aangestel as soldate.  Die minimum vereiste lengte was 5 voet, en die persoon moes gesond en sonder gebreke wees.  Wat die VOC in die praktyk beoog het vir indiensneming was gesonde, sterk en natuurlike energieke manne.

In Van Gelder se relatief klein data stel van 47 was die ouderdomme van 30 bekend by aansluiting.  Die jongste was 19 jaar, die gemiddeld was 24 jaar en die oudste was 32 jaar.  Almal was ongetroud.  45 was Protestants en slegs 2 Katoliek.

So vêr moontlik is slegs Protestantse Nederlanders aangestel as offisiere -Katolieke, Engelse, Franse of Skotte mag verkieslik nie gedien het as offisiere nie.

Ongeveer 50% van die VOC se werknemers was van buite Nederland, en ongeveer 80% van dié buitelanders was Duitsers – dus was 40% van die VOC se totale werknemers Duitsers, wat veral in diens geneem is as as soldate (tot 60% van soldate was Duits).    Die ander 10% het van heinde en verre van orals oor Europa gekom – selfs Pole wat ook in Suid Afrika stamvaders geword het  (Kowalski, 2015).

In die sewentiende eeu was die Duitsers afkomstig vanaf die geografiese areas Saksen, Thüringen, Zwaben, Franken en Wurtemberg (sien kaart hier onder).  Staatkundig gesien was die Duitsers was afkomstig van die keurvorstedom Sakse, die hertogdomme Wurtemberg, Sakse-Weimar, Sakse-Anhalt, Sakse-Gotha en die ryksstede Neurenberg, Frankfurt en Ulm.  In die agttiende eeu kom die manne nog steeds uit hierdie gebiede, maar ook in toenemende mate uit die verder oostelike gebiede, Pruise en Silezië (Van Gelder, 2006).

Die kaart hier onder toon die mees gebruikte roetes van Duitsland na Nederland gedurende die 17de en 18de eeu wat gebruik is deur voornemende Duiters wat werk kom soek het by die VOC (Van Gelder, 2006).  Die rooi pyltjie dui die ligging van Tangermünde aan wat aangegee word as die oorsprong van Jan Grobler in die VOC dokumentasie.  Dit is waarskynlik dat hy opgevaar het met die Elbe rivier vanaf Tangermünde na Hamburg en weer van daar per skip na Amsterdam via die Noordzee en Zuiderzee.  (Kan dit wees dat hy in Amsterdam sy oorsprong gegee het as Tangermünde omdat hy van daar vertrek het op sy reis?)

Mees gebruikte roetes van Duitsland na Nederland

Die VOC het nie nodig gehad om in die buiteland te gaan werf nie – buitelanders het na Nederland gestroom op soek na werk.  Dié werksoekers het saamgedrom by die VOC kantore en vuis geslaan om toegang te kry wanneer die VOC aangekondig het dat hulle bemanning soek vir ‘n nuwe vloot.  Vlote is hoofsaaklik saamgestel in die Winter en in die Lente, sogenaamde Kersfees en Paasfees vlote (Dutch Asiatic Shipping in the 17th and 18th Centuries, 1987).

Sogenaamde “zielverkopers” het as agente gedien en voornemende werksoekers gehuisves, uitgerus en dan aan die VOC gelewer as kandidate.  Indien ‘n kandidaat aanvaar is deur die VOC, was hy f 150 verskuldig aan die sielverkoper, vir sy losies en uitrusting.  Dit is die bedrag wat bo links in die skip se soldyboek aangedui word as ‘n skuld.  In die geval van Jan Grobler was hy f 150 verskulding aan die ene Jan Jansz (wat van Amsterdam sou wees aangesien die Hof van Ilpendam op die Amsterdamse Kamer se boeke was).  Dit lyk vir my of hierdie skuldbriewe verhandelbare instrumente was want dit lyk of Jan Grobler sy skuld van f 150 terugbetaal het in 1707 (f 110) en 1709 (f 10) aan die ene Barent Willems  (Barent het in 1699 uitgevaar met die Hof van Ilpendam maar teruggekeer na Nederland waar hy seker in dié besigheid betrokke geraak het).  Verder het Jan Grobler nie ‘n “maandbrief” gehad wat maandelikse betalings in Nederland aan afhanklikes gespesifiseer het nie, dus kan die gevolgtrekking gemaak word dan hy jonk en ongetroud was en nie kapitaal gehad het nie (om bv. te betaal vir sy eie losies en uitrusting nie).  Die minimum ouderdom van 19 jaar, gemiddelde ouderdom van 24 jaar en maksimum van 32 jaar (in Gelder se data), impliseer geboortejare vir Jan Grobler van tussen 1686, 1681 en 1673; en gegee sy jaar van sterfte in 1735, impliseer dit leeftye van tussen 49, 54 an 62.  Ek sou sê in alle waarksynlikheid was hy meer aan die jong kant by sy indiensname by die VOC.