Reisjoernaal van 1705 Uitreis vanaf Texel na Tafelbaai

Inleiding

Jan Grobler het op 10 Mei 1705 vertrek aan boord van die skip Hof van Ilpendam wat op pad was na Batavia toe via die Kaap.   Dié reis na die Kaap is gedokumenteer in ‘n reisjoernaal deur die ene François Valentyn in DES SCHRYVERS TWEEDE UYT- en T’HUYS-REYZE in hoofstuk twee van die vyfde boek in (Valentyn, 1724). 

Ek het die dele van die reisjoernaal wat betrekking het op die reis as sulks (dié joernaal bevat ook breedvoerige aardrykskundige beskrywings) vertaal en die roete geherkonstrueer deur die verwysingspunte te identifiseer op kaarte en dit verder aan te vul met met die seil-instruksies an ander annotasies.

Die seil-instruksies van om en by 1670, INSTRUCTIE Om in May-tijd Uyt Nederland na Java te Zeylen,  het nie baie detail bevat nie en begin byvoorbeeld met:  Eerstelijk, dat ſy het Canaal gepaſſeert zijnde… (Eerstens, nadat jy die Kanaal gepasseer het…).  Die seil-instruksies is gedurigdeur opgedateer met meer detail en ek het die instruksies van 1783, ZEILAGE-ORDRE OM TEN ALLEN TYDE VAN NEDERLAND OVER KAAP DE GOEDE HOOP NAAR STRAAT SUNDA TE ZEILEN gebruik om dele van die reis te herkonstrueer, omrede die verwysingspunte in Valentyn se reisjoernaal baie goed ooreenstem met die van die 1783 seil-instruksies.  Hierdie seil-instruksies is die dokumentasie van die kumulatiewe ondervinding wat al opgedoen is sedert die 1500’s, en die seeroete na die Ooste het nie verander gedurende die 17de en 18de eeue nie, aangesien daar net seilskepe in gebruik was, wat noodwendig afhanklik was van heersende windrigtings.  (Dié roete het eers verander nadat stoom-aangedrewe skepe begin vaar het tydens die Industriële Revolusie).  So, alhoewel die 1783 seil-instruksies eers na 1705 tot stand gekom het, is ek van mening dat dit steeds die seeroete van 1705 reflekteer.

Van Texel na die Hoofde

Volgens die seil instruksies om van Texel na die Hoofde (ingang van Engelse kanaal) te seil; moes hulle sodra die oop see bereik is, 5 tot 6 myl WSW seil en daarna SW tot hulle oos van die Land van Schouwen kom.  Van hier af moes ‘n meer suidelike koers ingeslaan word om die Fals (Falls op die kaart) en Gom (Godwin Sands op die kaart) sandbanke te vermy.  Verby die Fals – met ‘n noordewind – moes hulle dan WSW hou om die kanaal binne te vaar tussen die Gunemans (Gunman op die kaart) sandbank deur en die Engelse kus, soos aangedui deur die blou roetes op die kaarte hieronder.  Die Hof van Ilpendam se roete word in rooi aangedui op die kaarte hieronder.

Reis van 10 tot 13 Mei 1705

Roete van Texel na ‘s Gravenhage

Reisjoernaal van 10 tot 13 Mei 1705

Uit- en Tuis-Reise van Ds. FRANÇOIS VALENTYN, A.D. 1705, gedoen as predikant na Oos-Indië met die skip die Hof van Ilpendam van die Kamer Amsterdam.

Notas: Die skip se gestandariseerde naam is Hof van Ilpendam.  Volgens INTRODUCTION TO THE ARCHIVES OF THE VERENIGDE OOSTINDISCHE COMPAGNIE, “… the names of ships have been standardized on the basis of Dutch-Asiatic Shipping in the Seventeenth and Eighteenth Centuries by J.R. Bruijn, F.S. Gaastra and I. Schöffer (The Hague 1979-1987)”.

Op 10 Mei A.D. 1705, die oggend het ons met die skip die Hof van Ilpendam (‘n skip van 145 voet, voorsien van 36 kanonne, 8 klein kanonne, en 220 manskappe waaronder 88 soldate) van die Kamer Amsterdam uit Texel geseil.

Notas: Volgens die skip se soldyboek was dit beman met 117 matrose en 86 soldate, en daar was 19 passasiers aan boord d.w.s. 222 in totaal.  Nationaal Archief, Den Haag, Verenigde Oostindische Compagnie (VOC), nummer toegang 1.04.02, inventarisnummer 5549, Hof van Ilpendam: Grootboek en journaal 1705-1705. (VERKORT: NL-HaNA, VOC, 1.04.02, inv.nr. 5549)

Ek is aan boord as predikant, by my is my vrou, Cornelia Snaats, 5 kinders, ‘n nefie (wie se onkostes ek moet betaal ofskoon hy tot my huisgesin behoort) en juffrou Aletta Bek (vir wie ek gesorg het, wat verniet oorgaan, aangesien daar tyd was, om dit in die vergadering van die Here Sewentien te versoek, maar nie vir my nefie, Simon de Brievings, ‘n kaptein se seun, as gevolg van sy laat aankoms hier uit Indië kon dit nie geskied nie) as ‘n diensmeisie. Die voorgenoemde juffrou gaan onder my beskerming oor na haar broer, predikant op Stellenbosch.

Notas: Aletta Bek was ook ‘n digteres en een van haar bundels is gepubliseer.  Sy het egter geen gedigte geskryf oor die reis na die Kaap nie.  Haar broer op Stellenbosch was Ds. Hendrik Bek.

Die Kaptein, wat gesag voer aan boord, was David Codde, ‘n man, sorgvry, ‘n goeie seeman, as hy nugter was, en deur en deur goed, maar ek wens hy kon meer erns en ordelikheid in homself gesien het, aangesien hy vrylik tot drank geneig was, het dit my dikwels vir ons bekommerd gemaak, alhoewel dit op hom baie min effek gehad het, soos ek in sommige voorvalle gesien het.
Die Opper-Stuurman was Joost Vendevogel, ‘n bekwame seeman, alhoewel hy nog nie na Oos-Indië gewees het nie, aangesien hy toe nog ‘n jong man was, maar andersins was hy pligsgetrou en onvermoeibaar; maar ons Onder-Stuurman , Jan Struys, was, ofskoon hy meermale in Indië gewees het, ‘n baie slegte Stuurman, wat ons op ‘n sekere nag, sou ek nie die Opper-Stuurman tydig gewaarsku het nie, in groot gevaar sou gebring het, om in die Vlaamse Banke, sou die Opper-Stuurman dit nie belet het nie, vas te val.
Ons Derde-Waak, Ulrich Tiglaar genaamd, was ‘n aangename jong man; dog baie jonk, en sonder ervaring, en behalwe dat hy nooit in Indië was nie; verbaas was, dat mens so mooi skip met so veel siele en goedere aan so weinig bekwame persone sou toevertrou, en oorsee stuur; want sou die Opper-Stuurman iets oorkom, sou ons in die drie ander hoofde van seilvaart nie veel gehad het nie.

Notas: Volgens die skip se soldyboek was die Derde-Waak se naam Ulrich Tiglaar (NL-HaNA, VOC, 1.04.02, inv.nr. 5549).

 Die Onder-Koopman, wat as seur of boekhouer van ons skip meereis, was Jacobus Valentyn, seun van dié Valentyn, wat met die oorname van Tayouan deur Conxinja na China ontvoer is, en baie jare daar gevange gehou is, wie se oupa ook landdros was in Tayouan. .
Die Kommandeur van die soldate was Paulus Donker, van Gouda, en die Opper-Wondheler, Barend Warning. 
Ons seil uit met ‘n vloot van 9 Oos-Indiese en 15 oorlogskepe van die Land <Nederland>, waaroor die Admiraal Van Almonde in bevel was, en ons tot by die Straat van Gibraltar sou begelei, en ons Admiraal was die Heer Samuel Timmerman, wat op die skip Vrijburg, waarop Ditlof Croes die kaptein was, ook as Raad van Justisie dien. Ook was daar ‘n mooi getal Curaçau- en Guinese-vaarders, wat met ons geseil het.

Notas: Volgens Huygens se databasis het net 7 Oos-Indiese skepe op 10 Mei vertrek van Texel naamlik die Abbekerk, Belvliet, Brandenburg, Driebergen, Rijnenburg en Vrijburg.  Twee ander het egter vertrek van Goeree op 20 Mei en later by die vloot aangesluit naamlik die Ysselmonde en Wassenaar.

Die ganse Sondag nag, en die 11de, dryf ons, drie myl van die kus af, teen die kus af, en op die 12de was ons teen 10 uur 3 myl van ‘s Gravezande, wat se toring ons suidwes ten suide peil, nadat ons die vorige aand voor Schevelingen verby was.

Notas:
1. Die afstande is in Duitse myle, waarvan daar 15 tussen twee lengtegrade is by die ewenaar.   Aangesien daar 60 (Engelse) seemyl tussen twee lengtegrade is by die ewenaar, is die verhouding 1:4, dus 1 Duitse myl = 4 seemyle (nautical miles).
2. Die peiling van suidwes ten suide is foutief aangesien dit in die rigting van die oop see sou wees van hulle ligging af.  Ek reken dit behoort suidoos ten ooste gewees het.
3. Die kerktoring van s’ Gravezande was 90 meter hoog.  Dit het egter in die vroeë 1800’s ineengestort en ‘n groot deel van die kerk verwoes.

Ons tel toe 81 skepe in die water, en sien twee skepe digby aan ons, wat Engelse vlae wys, maar wat ons vir Frans aangesien het; een met 18 en die ander met 24 kanonne; van welke een van hulle die nag vlak voor ons boeg kom, in welke nag ons ‘n anker verloor het tussen twaalf en een uur.
Op die oggend van die 13de Mei 1705, in die tweede glas van die honde-wag was ons in die uiterste verleentheid deur ‘n alarm wat gemaak is oor ‘n skip, wat lyk of dit vlak teen ons boeg gaan aandryf, aldus ons meen, dat hy van sy anker gaande geraak het; en terwyl ons sien, dat hy nog aanhou na ons, en nie na ons geskreeu, hou weg, hou weg, luister nie, so ons vuur op hom, waarop hy gou, saam met sy makker wat agter hom was, van ons weghou.

Notas: Tyd aan boord is gehou met ‘n uurglas, oftewel ‘n halfuurglas.  Een glas was ‘n periode van 30 minute.  Die hondewag was van 24;00 to 04:00, dus die tweede glas van die hondewaak is van 00:30 tot 01:00.

Ons wou eers ons anker laat gaan, maar hou dit toe nog, alhoewel later verneem ons dat dit by die skag afgebreek het en dat derhalwe was dit nie die vorige skip nie, maar ons skip wat sonder ons wete aan die dryf was, en wat van sy anker af was.
Ons het toe egter met groot gevaar aan onsself, en ook van al die ander skepe, geseil, aldus ons baie lanterns , deur die vloot gesien rondswaai het, ‘n teken, dat dit deur swaar weer, wat ons gekry het, ook aan die dryf geraak het.

Reis van 16 Mei tot 23 Mei

  

 

 
Die 16de Mei 1705 raak die fluyt skip die Lepelaar gaande, en kom vlak voor ons boeg; waar op ons in die sewende glas van die eerste waak met ‘n swaar suidweste wind gaande raak, baie naby die Lepelaar kom, en baie groot gevaar lei van teen mekaar bots en versplinter raak, aldus die see rof was. Hulle gooi toe eerste die vasmeer-anker uit maar moes om die Lepelaar nie te raak nie, dit baie kort hou, waardeur ons skip wat op vreeslike deinings ry, afgryslik stamp.
Op die 17de Mei 1705 in die sewende glas van die dagwaak, breek die vasmeer anker by albei arms, en twee voet van die skag verby, af.

Notas:  Die sewende glas van die dagwaak is tussen 23:00 en 23:30.

So ons het weer aangegaan, ‘n kans gevat en ons was gelukkig, deur die ankertou te laat gaan, meer ons met die daaglikse-anker vas op ‘n beter plek wat verder van die Lepelaar was.
Op die dag en nag raak baie skepe gaande, a.g.v. baie sterk winde, alhoewel die weer andersins goed was,
Teen die middag dryf een van die oorlogskepe geleidelik na ons toe, maar gaan teen die aand, toe die wind stil raak, weer weg van ons.
Op die volgende dag, toe dit stiller word, versoek ons van kaptein Croes ‘n ander anker; dog hy weier ons dit, wat ons, na ‘n krygsraad aan boord op die middag van 20 Mei 1705 kry ons ‘n anker van Nicolaas Schaft, Kaptein op die skip Brandenburg.
Ons sien ook verskeie skepe van Helvoetsluys na ons toe kom, waaronder die Rotterdamse Oos-Indiese skip Ysselmonde, waarop N. Overraad die kaptein was, ook die Wassenaar, ‘n nuwe skip van die Kamer Delft was onder lede
   Op die 21ste Mei 1705 raak ons, deur onversigtigheid van die Onder-Stuurman, in die middel van die nag byna van die skip af, en in 28 tot 30 vadem water.  Ook was hy wel ‘n uur (deur kwaai bevele aan die bemanning te gee) besig om die skip te draai; dit wou egter nie slaag nie, of, soos die Opper-Stuurman daarna gesê het, dit was onmoontlik om te slaag, ja dit was duisend teen een, dat ons nie ‘n veel groter onheil (ramp) op die Vlaamse banke het (lei) nie, aangesien ons daar digby (naby) was.
Op die 23ste Mei 1705 se oggend in die tweede glas van die dagwaak, sien ons Engeland se Noord Voorland, gaan ons verby die Hoofde in die begin van die voormiddagwag, sien ons Dover duidelik, aangesien ons maar skaars een myl van die kuslyn was, en met mooi weer gaan ons in die Kanaal in met ‘n noordoostelike en oostelike wind.

Notas: Tweede glas van die dagwaak is 04:30 to 05:00

Deur die Engelse Kanaal

Die seil-instruksies sê om van Dover suidwes-ten-suide te seil totdat Bevezier (Beachy Head) in die noorde is, en dan wes-ten-suide te seil in die Kanaal af totdat die Sorlings (Isles of Scilly) bereik word.  Aangesien hierdie roete hulle sou bring tot 49° 36′ N suid van die Sorlings, en dit die presiese ligging is wat gemeld word in die reisjoernaal, neem ek aan dat hulle die roete volgens die seil-instruksies geseil het.
Roete deur Engelse Kanaal
 
Op die 24ste Mei 1705 bereik ons Bevezier, sien ons teen die middag die Eiland Wigt, wat ons geleidelik nader, dog teen die middag gaan lê die wind.
Die 25ste Mei 1705 bereik ons die Hoek van Portland; dog kry ons teen die aand stilte, blitse, donderslae, en swaar weer, wat op reën uitloop.
Die 26ste Mei 1705 kom ons voor die Hoek van Goudstaart, en op die middag naby die hawe van Plymouth.
Die 27ste Mei 1705 bereik ons die Sorlings, en kom in die namiddag op 49 grade, 36 minute.
Die 28ste bring 3 van ons oorlogskepe 4 Franse skepies in die vloot in

Van die Sorlings na Madeira

Die seil-instruksies van 1670 om vanaf die  Sorlings na Madeira  sê om suidwes te seil tot op die breedtegraad van 43° en van daar af so suid (180°) of suid-ten-weste (191¼°).  Reg suid bring jou tot by Madeira eiland, en suid-ten-weste bring jou wes van Madeira eiland.  
Roete van Sorlings na Madeira

 

Op 29 Mei het hulle die ganse gag en nag ‘n hewige wind, en swaar deinings, en kry die nag ‘n oos-noord-oos wind.  Hulle raak geskei van hulle Lands skepe. wat hulle eers weer die volgende dag  te sien gekry het, en van wie hulle teen 3 uur in die namiddag, na beraming op 43 grade, van afskeid neem.   Hulle seil nou in plaas van suid, met ‘n suidweste koers, en met ‘n oos-noordoos wind.

Op die eerste Junie het hulle baie sterk wind, bewolkte en stormagtige weer die ganse dag.  Hulle sien drie Malefiten (sulke klein ongeluksvoëltjies).  Dieselfde dag val ‘n man oorboord, wat na veel moeite weer teruggekry word.

Op 9 Junie was hulle naby die Barlinges, en kry die wind suidwes en noord, met ‘n suidelike koers.

Op 13 Junie vuur die Wessel Arenszen, ‘n Curaqao-vaarder, 3 skote af op 34 grade, 17 minute, noorderbreedte, maar hulle weet nie waarom hy dit gedoen het nie.

Op 16de Junie sien hulle ‘n bietjie na die middag, 8 myl van hulle die Eiland Madeira en Porto Santo, twee Vlaamse eilande,  alhoewel by sommige onder die Kanariese Eilande gereken.

Hulle verander hier hul suidelike koers na suidwestelik met ‘n noord-ten-oostelike wind, verstel die kompasse, en bevind dat Madeira op 32 en ‘n half grade lê.  Hulle kry hier goeie wind met heerlike vooruitgang en seil 30 tot 36 myl die dag.

Van Madeira na die Kaap Verdiese Eilande

Die seil-instruksies van 1670 om vanaf Madeira na die Kaap Verdiese Eilande sê om aan te hou met die suidelike koers en dan tussen Canaria en Tenerife in die Kanariese Eilande deur te seil, of om wes van die Kanariese Eilande verby te seil (dus aanhou met ‘n suid-ten-weste koers) afhangend van die wind.  Daarna moet geseil word om oos van die Kaap Verdiese eilande te kom.

Op die 17de Junie het ons op 28 grade en 14 minute gekom. Kry hier is die passaatwind, en ons het uitgevind dat ons in die dag ‘n goeie weer gehad het, maar snags het ons ‘n lug vol wolke gehad. Ook vandag het ‘n Curaçao-vaarder afskeid geneem van ons.

Die 18de Junie seil ons 40 myl in een dag, maar kon geen hoogte kry nie, omdat ons te naby die son was. Die see hier was rof, en vol swaar deinings. Ook vandag neem die Wessel Arendszen afskeid van ons, en toe was daar nog met ons 9 Oos-Indiese vaarders, en 2 skepe, wat na Guinea op pad is, byeen, welke 2 laaste skepe ons die dag verlaat op 26 grade; wat die Rotterdammer en Delvenaar teen die middag ook gedoen, laat hulle vlae waai terwyl hulle ‘n paar afskeidskote doen.

Die 21ste Junie gaan ons oor die Kreefskeerkring, en ook die son, op 22 grade, besluit om tot by die Zoute Eilande by die vier fluyte te bly, synde toe nog saam met ons sewe skepe is.

Die 22ste Junie 1705 verander ons, op die sein van die Admiraal, ons koers van suid ten weste na suid, en het daagliks kort heftige windvlae met stortreën, en swaar weer, kom die 24ste op 16 grade 58 minute en sien hier ‘n bezaantje, synde ‘n appelbloeisel zee-qual, teen die wind op drywe.
Ook het ons hier, as dit skielik stil word, ‘n rowwe deining op see, en swaar hitte ‘n paar dae aaneen.

Op die 27ste Junie stel ons die koers suid ten ooste, synde die wind van noordwes is.

Van Madeira na die Kaap Verdiese Eilande

Van die Kaap Verdiese Eilande na die Ewenaar

Die mees kritieke deel van die reis was tussen die Kaap Verdiese Eilande en die kruising van die Ewenaar.    Skepe moes seil binne die grense van die lyne ABC en ED op die kaart hieronder om die ewenaar oor te steek tussen die punte C en D  – verkieslik tussen die lengtegrade van 356 en 359 (gemeet relatief tot Tenerife).  Indien hulle buite hierdie grense sou seil, was die kans baie goed dat hulle nie verder suid sou kon gaan nie aangesien ‘n skip wat aan die oostekant van ABC beweeg het meegesleur sou word en aan die kus van Guinea sou eindig, en ‘n skip wat wes van ED beweeg sou meegesleur word om aan die kus van Suriname te eindig.  Dit sou die reis met etlike maande vertraag aangesien hulle eers sou moes terugseil na die Kaap Verdiese Eilande om weer die wind reg te kry om suid mee te vaar.  Hierdie lyngrense is op die VOC kaarte aangedui en het bekend gestaan as die “Wagenspoor” of “Karrepad”. 

Die reis is verder bemoeilik deur die feit dat hoe nader mens aand die ewenaar kom hoe minder wind is daar.    Behalwe vir windstiltes (Eng. dolcrums) kan die wind ook afwisselend uit enige rigting kom.  Met die wind van voor moes die seilskepe hulle seile laat sak en anker gooi.  Dit het gemaak vir baie stadige vordering, en dit boonop in tropiese weer wat baie warm en vogtig is.

Die 30ste Junie  vermis ons die skepe Bergvliet en Rynenberg op 11 grade.

Die eerste Julie verander, ons op ‘n sien van die Admiraal ons koers suid-oos ten ooste, met ‘n westewind, wat na die suidweste draai met verskeie korte hewige windvlae met stort reën.  Hier val weer ‘n man oorboord, maar word gered.  Ook neem ons kennis vêr voor weerlig en donderweer;, maar gaan verby en nie deur dit nie.

Op 2 Julie raak ons Admiraal weg van ons af.

Op 3 Julie was die koers suidoos, suidoos ten suide, en oos-suidoos met suide en suid-ten -weste wind, het ons ‘n rowwe see, en na raming was ons op 7 en’n half grade noorder breedte.

Op 4 Julie kry ons baie swaar reën, die gelyke wat ons nog nie gehad het nie.. Ook is die see baie rof, en neem ons bietjie weerlig waar, waarop ook swaarder weer en rowwer see volg, waardeur ons geweldig begin te stamp. Die oggend sien ons nog die Brandenburg, Abbekerk, en Driebergen, maar teen die namiddag sien ons geen een van ons makkers nie, en nou en dan kry ons swaer kort heftige windvlae met stortreën met ‘n suid-oos-oostelike en oos-suidoostelike koers, en met ‘n suide wind, wat nie swak was, en alreeds redelik sterk afgekoel, het die hitte hier baie gematig.

Op 8 Julie kry ons swaar reën met kort heftige windvlae met stortreën uit die noorde, het ons koers suid ingestel; maar het gou ’n suidelike wind. In dieselfde wolkbreuk val ‘n grasgroen sprinkaan, wel 40 tot 50 myl van die kus, op die voorste bo-dek, synde met die reënbui waarskynlik van die kus af meegevoer is.

Ons het hier baie kort heftige windvlae met stortreën en baie rowwe seë, egter vind ons nou en dan ‘n vlieënde vis, dan ‘n Coret, of seekatte, op die hoogte van 6 grade, 34 minute; ook sien ons nou en dan hier Schaarvogels en Dorados, van laasgenoemde het ons 13 en een Coretten gevang, het ons hier byna geen hitte, maar kry swaer reën, en verskeie harde kort heftige windvlae met stortreën met ‘n suide, suidweste, en suid-suidweste wind, en suid-oostelike koers, ook gooi ons op 12 Julie grond uit.

Op 16de Julie word ons bewus van ‘n skip in die verte, waarna ‘n sware reën volg, na dit opgeklaar het en die einste skip naby ons kom en ‘n Engelse vlag toon; word alles op ons skip in rep en roer, aangesien die bemanning nie gereed was, om hier met ‘n vyand slaags te raak nie, en die wanorde onder al ons mense so groot, dat ons deur die skip, as dit ons sleg aangeraak het, ten eerste sou verower word, ofskoon hy veel kleiner as ons s’n was; want geen soldaat het ‘n patroon in sy geweer, al diegene wat blykbaar (leeg) ongewapen was, laasgenoemde deur die agerlosigheid van die Skeeps Owerhede toegelaat, die te meer daarvoor moes gesorg het, aangesien die Here Bewindhebbers hulle, voordat ons weg is, wel ernstig aanbeveel het om daaraan aandag te gee, sodat dieselfde, wat die Skip Berkenrode (wat op 45 grade die jaar tevore geneem was) nie mag oorkom nie.

Intussen bekyk hierdie gas ons nie ‘n bietjie nie, terwyl hy meer na ons toe seil, deur hom nie ons vlag te wys nie hom in groot onsekerheid los. Egter begin hulle by ons duidelikheid van een of ander te maak, en alle jong vrouens word benede gestuur na die Konstabelskamer, of nog laer gestuur, maar ek bly bo by die Kaptein, van oordeel dat met aanmoediging van die bemanning die meeste diens sal doen.

Die wind word uiteindelik goed, en nadat die skip ons van voor en agter wel te sien gehad het, gee hy vinnig pad weg van ons voor die wind, en toe eers wys ons kaptein onder ‘n skoot sy vlag; maar die ander wys nie weer hulle vlae nie.

Daagliks het ons hier op 3 en 4 grade baie heftige windvlae met stortreën en rowwe seë met ‘n suidooste wind, en suid-suidwestelike koers, waarop ook die suid-oostelike passaat begin optel het, maar dit was meestal in die wind (van voor af), alleen nou tot onse troos nou en dan enige Albacores, of ‘n vlieënde vis of Coret vang, sonder dat ons hier op 3 grade byna van enige hitte ervaar.

Die 25ste Julie bevind ons onsself suid van die ewenaar, met sware deinings uit die suide, ‘n goeie vooruitgang en lekker koelte, met ‘n suid-suidooste en suid ten ooste koers, en ‘n oos-suidoos wind, vang daagliks veel van die gemelde vis, wat ‘n groot verversing vir ons was.

Ons ontdek meer en meer op die reis, dat ons ‘n groot lek voor in die boeg het, wat op see nie herstel kon word nie, en wat die oorsaak was, dat ons bemanning in een glas, gedurende goeie weer, drie honderd, en, by onweer, wel 500 tot 600 pompslae moes gepomp het , so hulle het water hoor inloop, deur ‘n gat, waar mens (soos agterna uitgedraai) wel ‘n arm in kon steek, en dit was onverskillig, om by die vernuwing van die onderlaag dit oop te gelaat het.

Gedurende die vaart tog wat meer as 4 maande duur, sterf 13 matrose en 4 soldate (gelukkig is Jan Grobler nie een van hulle nie).  Die Hof van Ilpendam en die Vrijburg gooi anker in Tafelbaai op 29 September 1705.   Die Hof van Ilpendam is vort na Batavië op 7 November 1705.  Jan Grobler is een van 23 passasiers wat agterbly in die Kaap.