Reis na die Kaap van Goeie Hoop

Inleiding

Jan Grobler se geskrewe geskiedenis is slegs bekend sedert hy in diens getree het van die VOC op 10 Mei 1705.  Die datum van sy VOC indiensneming is ook die datum waarop hy vertrek aan boord van die skip Hof van Ilpendam wat op pad was na Batavia toe via die Kaap.   Dié reis na die Kaap is gedokumenteer in ‘n reisjoernaal deur die ene François Valentyn in DES SCHRYVERS TWEEDE UYT- en T’HUYS-REYZE in hoofstuk twee van die vyfde boek in (Valentyn, 1724).  Hy was aan boord as ‘n predikant en is vergesel deur sy vrou Cornelia Snaats, hulle 5 kinders, ‘n neef  genaamd Simon de Brievingsen ‘n mejuffrou Aletta Bek wat op pad was om by haar broer aan te sluit in Stellenbosch.   Ek het die dele van die reisjoernaal wat betrekking het op die reis as sulks (dié joernaal bevat ook breedvoerige aardrykskundige beskrywings) vertaal en die roete geherkonstrueer deur die verwysingspunte te identifiseer op kaarte en dit verder aan te vul met met die seil-instruksies an ander annotasies.

Die seil-instruksies van om en by 1670, INSTRUCTIE Om in May-tijd Uyt Nederland na Java te Zeylen,  het nie baie detail bevat nie en begin byvoorbeeld met:  Eerstelijk, dat ſy het Canaal gepaſſeert zijnde… (Eerstens, nadat jy die Kanaal gepasseer het…).  Die seil-instruksies is gedurigdeur opgedateer met meer detail en ek het die instruksies van 1783, ZEILAGE-ORDRE OM TEN ALLEN TYDE VAN NEDERLAND OVER KAAP DE GOEDE HOOP NAAR STRAAT SUNDA TE ZEILEN gebruik om dele van die reis te herkonstrueer, omrede die verwysingspunte in Valentyn se reisjoernaal baie goed ooreenstem met die van die 1783 seil-instruksies.  Hierdie seil-instruksies is die dokumentasie van die kumulatiewe ondervinding wat al opgedoen is sedert die 1500’s, en die seeroete na die Ooste het nie verander gedurende die 17de en 18de eeue nie, aangesien daar net seilskepe in gebruik was, wat noodwendig afhanklik was van heersende windrigtings.  (Dié roete het eers verander nadat stoom-aangedrewe skepe begin vaar het tydens die Industriële Revolusie).  So, alhoewel die 1783 seil-instruksies eers na 1705 tot stand gekom het, is ek van mening dat dit steeds die seeroete van 1705 reflekteer.

Ek het die reisjoernaal sin-vir-sin vertaal maar weergee dit hier onder as ‘n baie meer vrylike vertaling, met byvoegings en annotasies.  Die 18de eeu se skryfwyse om byvoorbeeld ‘n hele paragraaf te skryf as een sin is nie vandag meer toepaslik nie.  Die verslag is ook verander van eerste persoon na derde persoon.  Die volgorde wat in die reisjoernaal weergee word het ek egter behou.

Van Texel na die Engelse Kanaal

Op die oggend van 10 Mei 1705, seil hulle uit Texel uit op die skip die Hof van Ilpendam van die Kamer Amsterdam – ‘n skip van 145 voet wat bewapen was met 36 kanonne en 8 bassens wat kleiner kanonne was.  Dit is beman met 117 matrose en 86 soldate, en daar was 19 passasiers aan boord d.w.s. 222 in totaal.  (Valentyn se getalle verskil: hy sê 220 manskappe waarvan 88 soldate was).

Die kaptein van die Hof van Ilpendam was David Kodde, wat ‘n baie goeie mens was asook ‘n bekwame seeman wanneer hy nugter was.  Die opper-stuurman was Joost Vendevogel, wat ‘n bekwame seeman was alhoewel hy nog jonk was en nog nie na Oos-Indië geseil het nie.  Die onder-stuurman was Jan Struys, wat nie ‘n goeie stuurman was nie, alhoewel hy al telkemale na Oos-Indië geseil het.  Die derde-waak was Ulrich Tiglaar, wat ook jonk en onervare was.   Die onder-koopman, wat as boekhouer van die skip meegereis het, was Jacobus Valentyn  – seun van Francois Valentyn.  Die kommandeur van die soldate was Paulus Donker, van Gouda, en die hoof-arts was Barend Warning.

Valentyn sê die kaptein se geneigdheid tot drank het hom dikwels bekommerd gemaak vir hom en sy familie (vrou en 5 kinders) se welvaart, wat saam aan boord was. Hy spreek ook kommer uit omdat so waardevolle skip met soveel siele aan boord toevertrou word aan sulke onbekwame bemanning om dit na oorsee te vaar, en hy eis om te dink wat van hulle sou word indien die bekwame opper-stuurman iets sou oorkom – hy vertrou nie hul lot toe aan die ander drie hoofde van seilvaart nie.

Die Hof van Ilpendam was deel van ‘n vloot wat ses ander VOC Oos-Indiese vaarders insluit naamlik die Abbekerk, Belvliet, Brandenburg, Driebergen, Rijnenburg en Vrijburg, asook 15 oorlogskepe.  Die admiraal van die VOC vloot was Samuel Timmerman op die skip Vrijburg, waarop Ditlof Croes die kaptein was en ook gedien het as regter.  Die admiraal van die oorlogskepe – wat die VOC skepe tot by die Straat van Gibraltar sou begelei, – was Van Almonde.  Die res van die vloot het bestaan uit ‘n mooi aantal VOC Curaçau- en Guinese vaarders.

Volgens die seil instruksies om van Texel na die Hoofde (ingang van Engelse kanaal) te seil; moes hulle sodra die oop see bereik is, 5 tot 6 myl WSW seil en daarna SW tot hulle oos van die Land van Schouwen kom.  Van hier af moes ‘n meer suidelike koers ingeslaan word om die Fals (Falls op die kaart) en Gom (Godwin Sands op die kaart) sandbanke te vermy.  Verby die Fals – met ‘n noordewind – moes hulle dan WSW hou om die kanaal binne te vaar tussen die Gunemans (Gunman op die kaart) sandbank deur en die Engelse kus, soos aangedui deur die blou roetes op die kaarte hieronder.  Die Hof van Ilpendam se roete word in rooi aangedui op die kaarte hieronder.

Hulle het vanaf Texel so 3 myl uitgevaar en toe langs die kus afgedryf gedurende die nag van 10 Mei.  Die nag van 11 Mei dryf hulle verby SchevelingenOp die 12de Mei was hulle teen tien uur, drie myl teenoor ‘s Gravezande (Gravenhage op die kaart), waar hulle hul posisie peil op die kerktoring van s’ Gravezande. (Dié kerktoring was 90 meter hoog.  Dit het egter in die vroeë 1800’s ineengestort en ‘n groot deel van die kerk verwoes).  Hier tel hulle 81 ander skepe in die omliggende vaarwater en sien twee Engelse skepe – een met 24 kanonne en een met 18 kanonne – baie naby aan hulle.  

Roete van Texel na ‘s Gravenhage

Daardie nag kom hulle in ‘n uiterse verleentheid.  In die tweede glas van die hondewaak (tussen 12:30 en 01:00 die oggend van 13 Mei), word daar alarm gemaak oor een van die nabye Engelse skepe wat na hulle aangedryf kom en lyk of dit reg teen hulle boeg gaan bots.  Aangesien hulle van mening was dat hy los geraak het van sy anker en nou gaande was, het hulle vir hom geskreeu om weg te hou.  Toe hy nie reageer nie wou eers hulle anker afsny (om vinniger te kan padgee) maar besluit toe om dit te behou, en hulle skiet ‘n waarskuwingskoot, waarna die skip en sy makker wat agter hom was, wegdraai.   Later toe hulle besluit om anker te lig, vind hulle uit dat die anker afgebreek was onder die ankerbalk, en dus was dit hulle eie skip wat  sy anker verloor het en gaande geraak het – sonder hulle medewete – en nie die ander skip nie.   

Hulle gaan seil toe egter met groot gevaar aan hulleself en ook van alle ander skepe wat ook gaande geraak het,  soos hulle kon sien aan die baie swaaiende lanterns deur die vloot wat ‘n teken was dat hulle, deur die swaar weer wat hulle gekry het,  ook gaande geraak het.  

Op 16 Mei raak die Fluytje die Lepelaar gaande, en kom vlak voor hulle boeg.  In die sewende glas van die eerste waak (tussen 23:00 en 23:30) het hulle baie naby aan die Lepelaar gekom en in baie groot gevaar verkeer om teen mekaar te bots en versplinter te raak, aangesien die see rof was nadat hulle met ‘n swaar suidweste wind te doen gekry het.   Hulle gooi toe eerste die vasmeer-anker uit maar moes om die Lepelaar nie te raak nie, dit (die ankertou) baie kort hou, waardeur hulle skip wat op vreeslike deinings gery het, afgryslik gestamp het.

Op 17 Mei in die sewende glas van die dagwaak (tussen 07:00 en 07:30), breek albei die arms van die vasmeer-anker, twee voet onder teen die skag af.   Hulle gaan to voort, vat ‘n kans en was gelukkig om anker te gooi met die daaglikse-anker op ‘n beter plek wat verder van die Lepelaar was.

Op daardie dag en nag het  skepe gaande geraak a.g.v. baie sterk winde, alhoewel die weer andersins goed was.  Teen die middag dryf een van die oorlogskepe geleidelik na hulle toe, maar toe die wind stil raak teen die aand,  gaan dit weer weg van hulle af.

Op ‘n dag toe dit stiller geword het, versoek hulle ‘n anker van kaptein Croes , maar hy weier dit. 

Op 20 Mei, na die hou van ‘n krygsraad deur die kapteins, kry hulle ‘n nuwe anker van Nicolaas Schaft, kaptein op die skip Brandenburg.  Dieselfde dag sluit nog twee VOC skepe – die Ijsselmonde van die Kamer Rotterdam en die nuwe skip Wassenaar van die Kamer Delft by hulle aan.  (Aangesien hierdié skepe vanaf Hellevoetsluys via Goeree geseil het, is die VOC vloot ten minste reg oos van Goeree.).

Op 21 Mei, in die middel van die nag, raak hulle byna van die skepe af in 28 tot 30 vadem water, deur die onversigtigheid van die onder-stuurman.  Hy was ‘n uur lank besig (deur kwaai bevele aan die bemanning te gee) om die skip te draai maar dit wou nie slaag nie.  Of, soos die opper-stuurman daarna gesê het, dit was onmoontlik om te geslaag het – ja dit was duisend teen een dat hulle ‘n veel groter ramp op die Vlaamse banke sou gelei het, aangesien hulle so naby was.

Vroeg in die oggend (04h30) van 23 Mei sien hulle Noord-Voorland (N. Forland op die kaart) op die kus van Engeland.   Hulle vaar met ‘n suidelike koers om die Fals (Falls op die kaart) en Gom (Godwin Sands op die kaart) sandbanke te vermy.  Verby die Fals – met ‘n noordewind – draai hulle WSW hou om die kanaal binne te vaar tussen die Gunemans (Gunman op die kaart) sandbanke en die Engelse kus.  Later die oggend (08h00) gaan hulle verby die Hoofde en sien Dover duidelik, aangesien hulle skaars een myl van die kuslyn was.  Met mooi weer en ‘n noordoostelike en oostelike wind vaar hulle die Kanaal binne.   Dit het hulle dus 13 dae geneem om  ongeveer 180 seemyl te vaar, weens die ongure weer.

Ingang van Engelse Kanaal met omliggende sandbanke

Deur die Engelse Kanaal

Die seil-instruksies sê om van Dover suidwes-ten-suide te seil totdat Bevezier (Beachy Head) in die noorde is, en dan wes-ten-suide te seil in die Kanaal af totdat die Sorlings (Isles of Scilly) bereik word.  Aangesien hierdie roete hulle sou bring tot 49° 36′ N suid van die Sorlings, en dit die presiese ligging is wat gemeld word in die reisjoernaal, neem ek aan dat hulle die roete volgens die seil-instruksies geseil het.

Nadat hulle die Kanaal binnegevaar het op 23 Mei, bereik hulle op die 24ste Mei Bevezier (Beachy Head) en daardie middag gaan hulle verby die Eiland Wigt (Isle of Wight).  Die 25ste Mei bereik hulle die Hoek van Portland .  Daardie aand kry hulle swaar weer met weerlig en donderslae, wat op reën uitloop.  Op die 26ste Mei gaan hulle verby die Hoek van Goudstaart (Start Point), en daardie middag is hulle naby die hawe van Plymouth.   In die namiddag van 27 Mei bereik hulle die die breedtegraad van 49° 36′ N suid van die Sorlings (Isles of Scilly).

Roete deur Engelse Kanaal

Van die Sorlings na Madeira

Die seil-instruksies van 1670 om vanaf die  Sorlings na Madeira  sê om suidwes te seil tot op die breedtegraad van 43° en van daar af so suid (180°) of suid-ten-weste (191¼°).  Reg suid bring jou tot by Madeira eiland, en suid-ten-weste bring jou wes van Madeira eiland.  
Roete van Sorlings na Madeira

Op 28 Mei bring drie van hulle oorlogskepe vier Franse skepies in die vloot in.

Op 29 Mei het hulle die ganse gag en nag ‘n hewige wind, en swaar deinings, en kry die nag ‘n oos-noord-oos wind.  Hulle raak geskei van hulle Lands skepe. wat hulle eers weer die volgende dag  te sien gekry het, en van wie hulle teen 3 uur in die namiddag, na beraming op 43 grade, van afskeid neem.   Hulle seil nou in plaas van suid, met ‘n suidweste koers, en met ‘n oos-noordoos wind.

Op die eerste Junie het hulle baie sterk wind, bewolkte en stormagtige weer die ganse dag.  Hulle sien drie Malefiten (sulke klein ongeluksvoëltjies).  Dieselfde dag val ‘n man oorboord, wat na veel moeite weer teruggekry word.

Op 9 Junie was hulle naby die Barlinges, en kry die wind suidwes en noord, met ‘n suidelike koers.

Op 13 Junie vuur die Wessel Arenszen, ‘n Curaqao-vaarder, 3 skote af op 34 grade, 17 minute, noorderbreedte, maar hulle weet nie waarom hy dit gedoen het nie.

Op 16de Junie sien hulle ‘n bietjie na die middag, 8 myl van hulle die Eiland Madeira en Porto Santo, twee Vlaamse eilande,  alhoewel by sommige onder die Kanariese Eilande gereken.

Hulle verander hier hul suidelike koers na suidwestelik met ‘n noord-ten-oostelike wind, verstel die kompasse, en bevind dat Madeira op 32 en ‘n half grade lê.  Hulle kry hier goeie wind met heerlike vooruitgang en seil 30 tot 36 myl die dag.

Van Madeira na die Kaap Verdiese Eilande

Die seil-instruksies van 1670 om vanaf Madeira na die Kaap Verdiese Eilande sê om aan te hou met die suidelike koers en dan tussen Canaria en Tenerife in die Kanariese Eilande deur te seil, of om wes van die Kanariese Eilande verby te seil (dus aanhou met ‘n suid-ten-weste koers) afhangend van die wind.  Daarna moet geseil word om oos van die Kaap Verdiese eilande te kom.

Op die 17de Junie het ons op 28 grade en 14 minute gekom. Kry hier is die passaatwind, en ons het uitgevind dat ons in die dag ‘n goeie weer gehad het, maar snags het ons ‘n lug vol wolke gehad. Ook vandag het ‘n Curaçao-vaarder afskeid geneem van ons.

Die 18de Junie seil ons 40 myl in een dag, maar kon geen hoogte kry nie, omdat ons te naby die son was. Die see hier was rof, en vol swaar deinings. Ook vandag neem die Wessel Arendszen afskeid van ons, en toe was daar nog met ons 9 Oos-Indiese vaarders, en 2 skepe, wat na Guinea op pad is, byeen, welke 2 laaste skepe ons die dag verlaat op 26 grade; wat die Rotterdammer en Delvenaar teen die middag ook gedoen, laat hulle vlae waai terwyl hulle ‘n paar afskeidskote doen.

Die 21ste Junie gaan ons oor die Kreefskeerkring, en ook die son, op 22 grade, besluit om tot by die Zoute Eilande by die vier fluyte te bly, synde toe nog saam met ons sewe skepe is.

Die 22ste Junie 1705 verander ons, op die sein van die Admiraal, ons koers van suid ten weste na suid, en het daagliks kort heftige windvlae met stortreën, en swaar weer, kom die 24ste op 16 grade 58 minute en sien hier ‘n bezaantje, synde ‘n appelbloeisel zee-qual, teen die wind op drywe.
Ook het ons hier, as dit skielik stil word, ‘n rowwe deining op see, en swaar hitte ‘n paar dae aaneen.

Op die 27ste Junie stel ons die koers suid ten ooste, synde die wind van noordwes is.

Van Madeira na die Kaap Verdiese Eilande

 

Gedurende die vaart tog wat meer as 4 maande duur, sterf 13 matrose en 4 soldate (gelukkig is Jan Grobler nie een van hulle nie).  Die Hof van Ilpendam en die Vrijburg gooi anker in Tafelbaai op 29 September 1705.   Die Hof van Ilpendam is vort na Batavië op 7 November 1705.  Jan Grobler is een van 23 passasiers wat agterbly in die Kaap.