Seilkuns en Navigasie in die Agtiende Eeu

Vanaf Grobler
Spring na: navigasie, soek

Inleiding[wysig]

Hierdie is 'n addendum tot die reisjoernaal van Valentyn. Dit is bedoel om van die terminologie te verklaar en agtergrond te verskaf om van die inskrywings beter te interpreteer, eerder as om 'n breedvoeringe verhandeling van die onderwerp te wees.

Datum en Tyd[wysig]

Die bepaling van datum is voor-die-hand-liggend, solank jy die datum van jou vertrek weet en onthou om met elke sonsopkoms die datum aan te skuif met een dag. Die datum was belangrik vir sekere astronomiese navigasietegnieke wat tabelle gebruik het waarin die stand van die maan en ander hemelligame vooruit bepaal was.

Tyd aan boord is gehou met ‘n uurglas, oftewel ‘n halfuurglas. Een glas was ‘n periode van 30 minute. Elke glas is aanboord aangekondig deur 'n klokslag. Dit was nie baie akkuraat nie. Bemanning het soms die klok aangejaag deur die uurglas vroeër om te draai omdat hulle van skof wou afgaan. Hierdie manier van tydhou was definitief nie akkuraat genoeg om tyd te hou vir die doeleindes van lengtegraadbepaling nie.

Al tyd wat akkuraat bepaal kon word was die lokale middag. Dit is gedoen deur die son dop te hou (as dit sigbaar was) wat teen 12h00 lokale tyd sy maksimum hoogte bereik, dus is die tyd geherkalibreer na 12 uur NM sodra die son sy hoogste punt bereik het.

Wagtye[wysig]

Die wagtye (of skofte) was periodes van 4 ure. Die tyd aan boord word aangedui deur glas en wagtyd bv. die eerste glas van die hondewag is tussen 00h00 en 00h30. Valentyn spesifiseer soms ook absolute tyd soos 10 uur.

Wag Tyd
Namiddag 12h00 tot 16h00
Platvoet 16h00 tot 20h00
Eerste 20h00 tot 24h00
Honde 00h00 tot 04h00
Dag 04h00 to 08h00
Voormiddag 08h00 tot 12h00

Afstand[wysig]

Dit is seker dat Valentyn Duitse myle gebruik het synde die kaarte wat hy geteken (of gekopiëer het) slegs Duitse myle aantoon in die kaarte se legendes. Die ander eenheid wat ook in gebruik kon gewees het op Nederlandse skepe is die Nederlandse of Snellius myl[1]. Daar is 19 Snellius myle tussen een lengtegraad by die ewenaar. Ek vermoed dit het uit gebruik geraak in die tweede helfte van die 17de eeu ten gunste van Duitse myle waarvan daar 15 myle per lengtegraad by die ewenaar is. Daar was ook verskeie ander afstandseenhede in gebruik soos op die legende van die Nieuwe Paskaart Van Het Noord-Zee Streckkende van Texel tot aande Hoofden van Joannes van Keulen, gedateer 1680, hier onder.

Tipiese eenhede van afstand in gebruik in die 17de en 18de eeue


Deur die loop van die eeue het die Engelse seemyl (nautical mile) die standaard geword, waarvan daar 60 seemyle per graad is. Dus is 15 Duitse myl = 60 seemyl, dus 'n verhouding van 1:4. (Die kaart legende hier bo gee Engelse "leagues" aan waarvan daar 3 seemyl in 'n league is).

Spoed[wysig]

Bepaling van Koers[wysig]

Windrigtings[wysig]

Daar is 32 windrigtings soos op die kompas- of windroos hier onder [2]:

Die kompasroos verkry van GROND BEGINZELS der STUURMANS-KUNST toegeskryf aan Joannes van Keulen


Die windrigting benamings is wedersyds verstaanbaar tussen Nederlands en Afrikaans, dus geen vertaling nodig. Let wel dat die kompasroos gebruik Suid terwyl Valentyn Zuid gebruik.

Grade Afkorting Rigtingnaam (Afr.)
0 N Noord
11¼ NNNO Noord-ten-Ooste
22½ NNO Noordnoordoos
33¾ ONNO Noordoos-ten-Noorde
45 NO Noordoos
56¼ NONO Noordoos-ten-Ooste
67½ ONO Oosnoordnoos
78¾ OONO Oos-ten-Noorde
90 O Oos
101¼ OOSO Oos-ten-Suide
112½ OSO Oossuidoos
123¾ SOSO Suidoos-ten-Ooste
135 SO Suidoos
146¼ OSSO Suidoos-ten-Suide
157½ SSO Suidsuidoos
168¾ SSSO Suid-ten-Ooste
180 S Suid
191¼ SSSW Suid-ten-Weste
202½ SSW Suidsuidwes
213¾ WSSW Suidwes-ten-Suide
225 SW Suidwes
236¼ SWSW Suidwes-ten-Weste
247½ WSW Wessuidwes
258¾ WWSW Wes-ten-Suide
270 W Wes
281¼ WWNW Wes-ten-Noorde
292½ WNW Wesnoordwes
303¾ NWNW Noordwes-ten-Weste
315 NW Noordwes
326¼ WNNW Noordwes-ten-Noorde
337½ NNW Noordnoordwes
348¾ NNNW Noord-ten-Weste
360 N Noord

Magnetiese Deklinasie[wysig]

Magnetiese deklinasie (of variasie) is die verskil tussen magnetiese noord soos aangedui deur 'n kompas, en ware noord geleë by die geografiese Noordpool. Kaarte is gebaseer op ware noord, so indien jy met 'n kompas navigeer moet jy gedurigdeer kompenseer vir die magnetiese deklinasie. (Kaarte word nie in terme van magnetiese noord geteken word nie want magnetiese noord se ligging is nie konstant nie - dit beweeg teen 'n paar grade per jaar).

Wanneer die kompas magnetiese noord aandui wes van ware noord, word daar gepraat van 'n noordwestlike deklinasie; en wanneer dit magnetiese noord aandui oos van ware noord, word daar gepraat van noordoostelike deklinasie. Tussen 1585 en 1815 is daar gepraat onderskeidelik van noordwestering en noordoostering[3] soos gebruik deur Valentyn in die reisjoernaal. Die magnetiese deklinasie is ook tussen 1585 en 1815 die miswijzing [3] van die kompas genoem soos ook gebruik deur Valentyn.

'n Maklike manier om bedags die magnetiese deklinasie vas te stel is deur die son se skaduwee te volg - soos gegooi deur 'n loodregte pen - en te merk waar die skaduwee lê wanneer die son sy hoogste punt bereik op die lokale middel van die dag (daar was al in die 1500's instrumente gemaak vir die doel). Dié skaduwee val in 'n reguit lyn tussen ware suid en noord. Snags kon dit gedoen word deur 'n loodlyn te trek van die poolster Polaris na die horison. In die noordelike halfrond sal die loodlyn direk ware noord aandui op die horison. In die suidelike halfrond kan ware suid bepaal word met behulp van die Suiderkruis (Crux). Magnetiese deklinasie is dan die verskil tussen die kompas noordrigting en die ware noordrigting. Die kompas het 'n verstelbare ring/e gehad wat gebruik is om die kompas te kalibreer vir ware noord. Valentyn verwys na dié proses as verleiden van de kompasse. Die metode om bedags die son te peil was afhanklik daarvan om die son te kon volg om sy hoogste punt te bepaal; wat redelik maklik was as die son laag oor die horison was, maar hoe nader mens aan die ewenaar kom, hoe hoër gaan die son en hoe kleiner raak die skaduwee. Ten minste moes die seevaarder dan geweet het hy is naby die ewenaar.

Met verwysing na die skets hier onder: N, O, S en W is die kompas (magnetiese) rigtings, en Nw is ware noord. Magnetiese deklinasie (hoek gamma) kon bereken word deur die hoek te meet waar die son opkom (alpha), en die hoek te meet waar die son ondergaan (beta), en dan was gamma = (alpha -beta)/2. In alle waarskynlikheid was hierdié metode gebruik aan boord van die Hof van Ilpendam aangesien Valentyn gereëld verwys na die morgenpeiling en avondpeiling waarna die kompasse verlei word.

Magnetiese Deklinasie.jpg


Isogene[wysig]

'n Isogeen is 'n lyn van konstante magnetiese deklinasie op 'n kaart. Die kaart hier onder dateer uit 1701 en is gemaak deur Edmond Halley. Synde die magnetiese pole jaarliks 'n paar grade skuif in ligging, verander die isogeniese lyne stadigaan deur die jare. Teen 1705 sou dit egter nog redelik naby aan die 1701 lyne wees.

Halley-map-1701-small.jpg


Die isogeniese kaarte kon gebruik word om lengtegraad te bepaal indien breedtegraad en magnetiese deklinasie bekend was. Valentyn beskryf - in die vyfde deel van Oud en Nieuw Oost-Indiën [4] se tiende boek, eerste hoofstuk getitel BESCHRYVINGE VAN DE KAAP DER GOEDE HOOPE, Met de ZAAKEN daar toe behoorende - dat die sekerste voorteken dat die Kaap naby is die magnetiese deklinasie (miswyzing) is:

  • Zeldzaame miswyzing van 't Compas hier. Het zekerste voorteeken egter is de wonderlyke miswyzing. van 't Compas, die men hier heeft, en die men 's morgens met 't opkomen, en 's avonts by 't ondergaan van de zon zoo klaar en zoo vast ontdekt, dat men niet de allerminste reden heeft, om aan de waarheid te twyffelen, gelyk dit de ondervinding best leert. Men bevont in 't jaar 1714 wanneer ik daar laatst was, dat de miswyzing van het Compas daar op 11 graaden, Noordwestering was.

Bepaling van Posisie[wysig]

Breedtegraad[wysig]

Breedtegraad kon betroubaar en akkuraat bepaal word deur die son se elevasiehoek te meet en die son se deklinasie in ag te neem. Die son se deklinasie is 'n funksie van die aarde se posisie om die son en word vooruit vasgestel en kon opgekyk word in 'n tabel volgens die datum. Die son se elevasiehoek word gemeet op die lokale middag. In die skets hier onder word die aarde voorgestel met 'n waarnemer by ligging P wat die son se elevasie hoek h meet. Die son se deklinasie is d. Die breedtegraad B = 90 - h - d.

Bepaling van breedtegraad d.m.v. die son se elevasiehoek by lokale middag


Valentyn gebruik "breedte", "noorderbreedte", "zuiderbreedte" en ook "hoogte" om te verwys na breedtegraad in die reisjoernaal.

Lengtegraad[wysig]

Die bepaling van lengtegraad is sinoniem met die bepaling van die tydsverskil tussen jou ligging en 'n bekende ligging (tipies die oorsprong van jou reis).

Die aarde wentel om sy eie as elke 24 uur en roteer deur 360 grade, dus deur 15 grade per uur.  Die tydsverskil tussen twee liggings word eenvoudig herlei na lengtegraad deur (tydsverskil in uur) X (15 grade per uur) = verskil in lengtegraad.  

Lengtegraad kon nie betroubaar of akkuraat aan boord op die oop see bepaal word (voor 1834) nie. Dit was 'n groot uitdaging om lengtegraad te bepaal, soveel so dat die Britse regering 'n bedrag van 10000 pond ('n reuse bedrag in die 1700's) beloof het aan enigiemand wat die probleem kon oplos. Dit is wel gedoen deur John Harrison [5] wat sy lewe daaraan gewei het om 'n meganiese horlosie te ontwikkel wat akkuraat kon werk aan boord ongeag van beweging, temperatuur ens. Die uurglas metodes van tyd hou aan boord was hopeloos te onakkuraat vir die doeleindes van lengtegraadsbepaling.

Daar was verskeie astronomiese metodes om lengtegraad (d.w.s. tyd) op land te bepaal deur byvoorbeeld snags die okkultasies van die vier sigbare mane van Jupiter dop te hou. Synde dié mane se bewegingspatrone reeds bekend was, kon die okkultasietye vooruit bereken word en kon dit dan dien om die tyd by die oorsprong te hou waarvan lentegraad afgelei kon word as die lokale tyd bekend was. Dit het egter 'n baie stabiele teleskoop vereis en aangesien daar nog nie tegnologie was om 'n teleskoop aan boord van 'n skip te stabiliseer nie, kon die astronomiese metodes nie aan boord aangewend word nie.

Lengtegraad aan boord kon afgelei word van magnetiese deklinasie en breedtegraad, maar dit sou vereis dat akkurate isogeniese kaarte beskikbaar was. Verder is staatgemaak op "dead reckoning" wat behels het om posisie te bepaal gebaseer op spoed, rigting en vorige posisie, wat uit die aard van die saak onakkuraat en onbetroubaar was.

Lengtegraad kon slegs akkuraat en betroubaar vasgestel word indien land in sig was sowel as bekende landmerke of bakens.

Zeromeridiaan[wysig]

Nederlandse kaarte het die zeromeridiaan (nul grade) verwysingspunt as die piek van Berg Teide op die eiland van Tenerife gebruik. Dit is die hoogste bergpiek in die Atlantiese Oseaan en wel 3718 meter (12198 voet) hoog. Dit is sigbaar vanaf 200 km. Die piek is geleë op 16.64 grade wes van Greenwich (16° 38′ 22″ W), so die lengtegraadverwysings in die joernaal moet verstel word met 16.64 grade om die lentegraad met verwysing na Greenwich te kry.

Valentyn skryf in sy reisjoernaal:

  • In 't midden deszelfs heeft men die vermaarde Piek van Canarien die voor een der hoogste Bergen van den Aardbodem gehouden werd , en men by klaar weder [skoon weer] 60 mylen[Notas 1] in Zee zien kan , en die ik , by myn eerste Tocht met dyzig weder [bewolkte weer], 30 mylen verre boven de wolken met zyn Top heb zien uitsteken

Lengtegraad is verder gemeet vanaf Tenerife (0 grade) in 'n oostelike rigting tot by 360 grade, soos gesien kan word op die kaart hier onder waar die lengtegraad aangedui word al langs die ewenaar.

Uittreksel uit Nova Totius Terrarum Orbis Tabula van Joan Blaeu, circa 1648


Aan boord was dit praktyk om die lengtegraad in die skip se logboek te verwys na die laaste bekende landmerk of baken wat op die vasteland gepeil is. 'n Studie van die logboeke van 1750-1854 identifiseer 646 unieke zeromeridiane[6]. Ongelukkig het die Hof van Ilpendam se logboeke verlore geraak, so al data wat beskikbaar is kom uit Valentyn se reisjoernaal.

Heersende Winde en Seestrome[wysig]

Winde[wysig]

4391053-w.jpg
Instructie van de eygenschap der winden.jpg


Seestrome[wysig]

Seestrome.jpg


Roete na die Kaap[wysig]

Skeepsroetes[wysig]

VOC Skeepsroetes 1750 1800.jpg


Notas[wysig]

  1. 180 seemyl - bietjie oordryf

References[wysig]

  1. Dutch-Asiatic Shipping in the Seventeenth and Eighteenth Centuries by J.R. Bruijn, F.S. Gaastra and I. Schöffer (The Hague 1979-1987)
  2. GROND BEGINZELS DER STUURMANS-KUNST, Pybo Steenstra, 1779
  3. 3,0 3,1 Dr. Davis C.A., ZEEWEZEN EN WETENSCHAP: De wetenschap en de ontwikkeling van de navigasietechniek in Nederland tussen 1585 en 1815, De Bataafsche Leeuw, Amsterdam, 1985
  4. Valentyn, François. Oud en Nieuw Oost-indiën vervattende een naaukeurige en uitvoerige verhandelinge van Nederlands mogentheyd in die gewesten. Dordrecht/Amsterdam: Joannes van Braam/Gerard Onder de Linden, MDCCXXIV
  5. Dava Sobel, Longitude: The True Story of a Lone Genius Who Solved the Greatest Scientific Problem of His Time
  6. Frits Koek, Longitude errors in ships’ observations during the 18th century, and their corrections, Koninklijk Nederlands Meteorologisch Instituut